|
Sowat
30 jaar gelede was daar 'n groepie studente aan
die Normaalkollege in Pretoria wat so tussen die
swot en meisies deur veel plesier gehad het aan
die maak van musiek en sing. In daardie dae het
hulle gehou van ou tranetrekkers wat groot byval
gevind het en het ook hul eie sad liedjies geskep.
‘n Serenadegroep genaamd Die Grafsteensangers
het so ontstaan.
Aan
die einde van hul studies het die groep ontbind,
maar hulle liedjies het in die harte bly leef. Een
van die groot bewonderaars van die oorspronklike
Grafsteensangers het hom in die groter Staatsdiens
begeef waar hy mettertyd as parlementêre beampte
aangewys is. Die parlementêre dorpie Akasiapark
in die Kaap het 'n lewendige sosiale program gehad
en koffiehuiskonserte was veral baie gewild. Daar
het die Grafsteensangers herrys - sonder
enige van die oorspronklike lede - en die kern van
die huidige groep het so twaalf jaar gelede in
Akasiapark bymekaar gekom.
Die
Grafsteensangers het in dié jare net so af en toe
bymekaar gekom en op versoek is familie en vriende
vermaak met droefsange, weenwysies en treurmares.
Gedurende
1999 het die Grafsteensangers die stoute skoene
aangetrek en tydens Aardklop op Potchefstroom
hulle vertoning aan die breër publiek
bekendgestel en die reaksie was oorweldigend.
Getrou aan hulle aard het die Grafsteensangers
soos 'n groep troebadoere in ‘n 1940 Chevy
lykswa genaamd Scrappie opgedaag, uitgeklim en
gesing en daarna weer vertrek.
Die
karakters het net voor Aardklop 1999 werklik
beslag gekry. Tydens die bespreking oor wie en wat
die groep moet wees, het een van die lede van die
groep, Marie-Lee Venter, gesê sy is reeds 21 jaar
'n weduwee en sy kan niks anders wees nie. Vandaar
dan dat die ander lede almal een of ander
verbintenis met die Weduwee het.
So
het die Weduwee se Suster, die Weduwee se
Skoonsuster, die Weduwee se rowwe Broer en die
ander karakters ontstaan. Wat begin het as 'n
lekker naweek in Potchefstroom het sodanig
uitgekring dat Die Grafsteensangers oor naweke
selde tuis is. Versoeke vir optredes kom van alle
uithoeke en dit is onmoontlik om aan almal te
voldoen.
Die
Grafsteensangers is verskeie kere op televisie
gesien en hul derde CD en 'n vollengte video is
onlangs vrygestel. Besoekers aan kunstefeeste is
telkens gaande oor die groep en hulle het ook 'n
suksesvolle internasionale debuut tydens Ukkasie
2001 in Londen gehad! Hulle het ook mettertyd
hulle lykswa verruil vir ‘n moderner
Chevrolet-bus genaamd Ou Ryperd, en dié rooi
gevaarte is tans ‘n bekende landwye
naweek-besoeker.
'n
Lag-met-'n-traan of 'n traan-met-'n-lag - hoe u
ookal die Grafsteensangers ervaar, hul
lanfer-en-lag-vertoning sal u nie koud laat nie.
|